Sasolburg : ‘n Ongedissiplineerde samelewing vernietig homself. VF Plus waarsku Gauteng regering teen samevoeging van munisipaliteite


Philip van Staden

Sasolburg – “Te midde van die dramatiese gebeure in Sasolburg vind die ANC tyd om die FNB-advertensieveldtog te kritiseer, maar vind nie tyd om die geweld en plundering wat in Sasolburg plaasvind, ongekwalifiseerd te veroordeel nie.”  Dit was die reaksie van die leier van die VF Plus en adjunkminister van landbou,bosbou en visserye,Dr. Pieter Mulder, na die afgelope twee dae se onrus en oproer in Sasolburg in die Vrystaat.

Dr. Mulder sê dat die plunder van winkels in Sasolburg  onverskoonbaar is en moet in die sterkste moontlike taal veroordeel word.Hy sê  dit maak geen sin om onskuldige winkeleienaars op misdadige wyse te plunder en groot skade te laat ly, omdat oproeriges vir die regering kwaad is nie. Mulder sê dat  die metodes wat die ANC tydens die “struggle”-jare gebruik het,  nou teen hulle gebruik word.

“Die gebeure in Sasolburg en De Doorns, maar ook vroeër in Carletonville en Marikana, getuig van ’n ongedissiplineerde samelewing wat glo dat alle probleme met geweld en vernietiging opgelos kan word. So lank as wat hierdie tipe ongedissiplineerde gedrag en geweld nie onvoorwaardelik deur ANC-leiers veroordeel en gestraf word nie, sal die plundering van winkels, die afbrand van geboue en die doodmaak van opponente voortduur. Die boodskap wat die betogers tans kry is dat hierdie tipe gedrag beloon word deurdat die regering onmiddellik aandag aan die probleme gee terwyl vreedsame demokratiese vertoë geen reaksie uitlok nie.”

Mulder sê voorts dat  met die onlangse tsunami in Japan is groot skade aan geboue en winkels aangerig. Volgens Mulder het daar ’n gedissiplineerde samelewing soos Japan het geen plundering plaasgevind nie. “’n Ongedissiplineerde samelewing, soos wat ons tans in Suid-Afrika ervaar, vernietig hom- of haarself op die lang termyn. Net effektiewe polisieoptrede, meer dissipline op alle vlakke maar veral sterk en verantwoordelike leierskap, kan dit voorkom.”

Dr. Pieter Mulder VF Plus Leier

Dr. Pieter Mulder VF Plus Leier

Intussen het die Gauteng leier en wetgewerslid van die VF Plus,Mnr.Jaco Mulder, die Gauteng regering gewaarsku dat die onrus in Sasolburg, Henneman en meegaande dienste-proteste  ‘n bewys is dat mense op voetsoolvlak in gemeenskappe vir niks anders as ‘n verkiesingsvoer  deur die ANC regering gebruik word nie.

“Hierdie mense is nie geraadpleeg oor die bepaling van dienstevlakke, beleid of die beoogde samevoeging van munisipaliteite.Net so was ook geen versoek deur gemeenskappe in Gauteng dat die munisipaliteite van Mogale City, Randfontein, Westonaria en Merafong City wat tans onder die Wesrand-distriksmunisipaliteit val en Lesedi, Emfuleni en Midvaal wat tans onder die distriksmunisipaliteit van Sedibeng in die Vaaldriehoek val om saamgevoeg te word in twee Metrorade nie”, sê Mulder.

Hy sê dat die Merafong geweld nog vars in die geheue  lê toe dit destyds by Noordwes ingesluit was en na baie geweld en oproer weer heringedeel is by Gauteng.

“Plaaslike regering in Suid-Afrika het reeds gefaal en die beoogde samevoeging van munisipaliteite is niks anders as die herverdeling van hulpbronne en sentralisering van mag wat dienslewering verder sal benadeel. Net so was die indeling van Bronkhorstspruit en Cullinan by die Tshwane Metro ‘n fiasko.”

Mnr. Jaco Mulder Gauteng Wetgewerslid van die VF Plus

Mnr. Jaco Mulder Gauteng Wetgewerslid van die VF Plus

Die VF Plus het reeds in 2012 die gemeenskappe van die Wesrand en Vaaldriehoek gewaarsku oor die beoogde samevoeging van hul munisipaliteite en die nadelige gevolge daarvan en is voortdurend in verbinding met die afbakeningraad. Mulder het weereens ‘n beroep op die publiek gedoen om hul protes teen die beoogde samesmelting te toon deur die aanlynpetisie by www.mymunisipaliteit.org.za te steun.

Mulder sê dat ‘n nuwe bedeling vir plaaslike regering met kundige amptenare, sonder politieke inmenging en kaderontplooiing,  noodsaaklik is.

Video met vergunning van Beeld

 

 

 

 

 

VF PLUS Se Plan Met Oproerigheid In Pretoria


Ansie Slabbert

Pretoria – Die VF Plus in Pretoria gaan in September, tydens die raadsvergadering, ‘n mosie ter tafel lê om onwettige immigrante uit Pretoria te verwyder.

Dit volg na die  oproerigheid, gister in Pretoria,  onder straatsmouse in die middestad.  “ Ons verwelkom die skoonmaak-aksie van die Metropolisie.  Die stad word die afgelope dekade versuur deur straatsmouse wat in die meeste gevalle nie Suid-Afrikaanse burgers is nie.  Die aaname kan ook gemaak word dat waar hierdie mense handeldryf, die misdaadvlakke baie hoog is”, sê Van Staden.

Volgens Van Staden maak munisipale bywette wel voorsiening vir  informele handeldryf. “ Die VF Plus wil niemand van sy lewensbestaan ontneem nie.  Die Metro se bywette maak dit moontlik vir smouse om in ‘n gereguleerde omgewing wettig handel te dryf.  Daar kan egter nie toegelaat word dat  smouse die stad oorneem en sodoende wettige besighede se ondergang beteken nie”.

 

 

Oproer In Pretoria!


Hilda Fourie en Foto Nico van Heerden

Chaos het gister in die Pretoriase middestad geheers toe oproerige smouse die strate op horings geneem het.

Soos die smouse van die varsproduktemark in die weste van Pretoria na die munisipale gebou in Vermeulenstraat geloop het om met die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad te gaan praat, het sakeondernemings hul deure toegemaak.

In Marabastad was van vroegoggend geen winkel oop nie.

Polisie- en Tshwane-metropolisielede het rubberkoeëls en water gebruik om die skare uiteen te dryf omdat die optog onwettig was, het kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, gesê.

Gladys Tladi (61), ‘n smous, het op die teerstraat geval toe ‘n waterstraal haar getref het. Sy is ook met ‘n rubberkoeël in die gesig geskiet.

Solomon Pohluba het byna in trane uitgebars nadat die polisie op die massa mense geskiet en water gespuit het.

“Hoekom maak julle ons dood? Vir baie jare het ek nie gewerk nie. Ek het ‘n plan gemaak, maar nou maak julle my plan dood. Moet ek eerder gaan steel?” wou hy weet.

Probleme het verlede week begin toe lede van die polisie, die metropolisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens Dinsdagaand smouse se stalletjies in Marabastad en Van der Waltstraat afgebreek en op hul goedere beslag gelê het.

Console Tleane, metropolisiewoordvoerder, het gesê die smouse het nie permitte gehad om handel te dryf nie hulle het op ‘n plek handel gedryf wat nie vir smouse toegewys is nie. Die smouse het ook nie saans hul goed opgepak en gestoor nie.

Gisteroggend het minstens 500 smouse by die varsproduktemark byeengekom.

Vincent Matjeng, voorsitter van die Tshwane- informele smouse, het gesê van hulle smous al meer as 20 jaar in Marabastad en Van der Waltstraat. Hy het ‘n tamatiestalletjie. Die polisie het op 180 kratte tamaties beslag gelê.

Toe die polisie op hulle begin skiet en die water spuit, het die skare in kleiner groepies verdeel en vullishouers omgekeer, verkeer ontwrig en selfs metropolisielede met klippe bestook.

Philip van Staden
Redakteur,Vryskut skrywer,
Aktivis en Politikus.
Kopiereg 2012

Oproerige Studente By TUT Moet Vasgevat Word


Foto: Nico Van Heerden

Ansie Slabbert

Pretoria – Die VF Plus in Pretoria doen ‘n beroep op die bestuur van die Tshwane University Of Technology (TUT) en die SAPD om oproerige studente vas te vat by die akademiese instelling.

Dit volg nadat oproerige studente gister die ingang na die TUT Pretoria-Wes kampus met brandende motorbande versper het omrede hulle ontevrede is oor ‘n tekort aan geldelike steun vanaf TUT.

Die leier van die VF Plus in Pretoria, Raadslid Philip Van Staden,het in reaksie op die gebeure gesê dat hierdie oproerigheid nie geduld mag word nie. “Terwyl dit noodsaaklik is dat studente finansiële ondersteuning ontvang, is dit verkeerd vir studente om geweld en misdaad te gebruik om TUT te dwing om gehoor te geen aan kwessies. Die afgelope 18 jaar het die regering ‘n voer-kultuur onder sy aanhangers geskep, terwyl die bemagtiging van hierdie mense, om selfstandig te wees, agterweë gebly het”, sê Van Staden.

Volgens Van Staden is die gebeure by TUT ‘n bewys dat die voer-kultuur van die regering besig is om sy tol te eis. “Die persepsie dat geweld die Staat kan forseer om geldelike steun te bied, wys daarop dat hierdie mense nie sonder hulp van die Staat kan klaarkom nie, en gewoond is daaraan dat die Staat sal help”.

Van Staden het ook gesê dat behoorlike Wet en Orde weer toegepas moet word en dat die land reeds in ‘n revolusionêre staat verval het.

“Suid-Afrika brand en dit gebeur as Wet en Orde nie behoorlik toegepas word nie. Oproeriges moet behoorlik vasgevat word en daar moet opgehou word om hulle sin elke keer vir hulle te gee.”

Philip van Staden
Redakteur,Vryskut skrywer,
Aktivis en Politikus.
Kopiereg 2012